1 Jesus het toe vir die dissipels ’n gelykenis vertel. Hy wou hê hulle moet verstaan dat ’n mens moet aanhou bid en nie moedeloos moet word nie.
2 Hy het gesê: “In ’n stad was daar ’n regter wat nie bang was vir God nie. Mense was ook nie vir hom belangrik nie.
3 In dieselfde stad was daar ’n weduwee. Sy het na die regter toe gegaan en vir hom gesê: ‘Daar is iemand wat nie reg doen aan my nie. Jy moet my asseblief help.’
4 Die regter wou haar nooit help nie, maar ná ’n lang tyd het hy gedink: Ek is nie bang vir God nie en mense is nie vir my belangrik nie.
5 Maar ek sal die weduwee help, want sy is lastig en sy sal my nog baie moeg maak as sy so aanhou vra dat ek haar moet help.”