10 Ek, die Seun van die mens, het gekom om almal wat verlore is, te soek en te red.”
11 Jesus het nog iets gesê vir die mense wat na Hom geluister het. Hy het vir hulle ’n gelykenis vertel. Hy het dit gedoen omdat Hy naby Jerusalem was en omdat die mense gedink het wanneer Jesus in Jerusalem kom, dan sal God dadelik Koning word en regeer. Maar Jesus wou vir hulle reg leer.
12 Daarom het Hy vir hulle gesê: “Daar was ’n man, hy was ’n koning se seun. Hy het na ’n ver land gegaan om eers daar koning te word. Daarna sou hy terugkom en koning wees oor sy eie mense.
13 Toe roep hy tien van sy slawe en hy gee vir hulle tien geldstukke en sê: ‘Julle moet met hierdie geld baie dinge koop en dit weer verkoop en meer geld kry totdat ek terugkom.’
14 Maar baie van die mense het niks van die koning se seun gehou nie, en nadat hy weggegaan het, het hulle boodskappers na hom toe gestuur om vir hom te sê: ‘Ons wil nie hê jy moet koning wees oor ons nie.’
15 Maar die man het koning geword. Hy het teruggekom en toe laat roep hy die slawe vir wie hy die geld gegee het. Hy het vir hulle gevra wat hulle met die geld gedoen het. Hy wou weet wat hulle gekoop en verkoop het.
16 Die eerste slaaf het gekom en gesê: ‘Meneer, hier is die een geldstuk wat jy gegee het, en hier is nog tien geldstukke daarby.’