6 Saggeus het gou afgeklim en hy het vir Jesus in sy huis ingenooi. Saggeus was baie bly dat Jesus in sy huis wou bly.
7 Maar almal wat dit gesien het, was ontevrede. Hulle het gesê: “Jesus het by ’n sondige man se huis ingegaan om daar te bly.”
8 Saggeus het voor Jesus gaan staan en gesê: “Here, ek belowe ek sal die helfte van alles wat ek het, vir die arm mense gee. En as ek te veel geld van iemand gevat het, sal ek vier maal meer teruggee.”
9 Jesus sê toe vir Saggeus en vir almal wat ontevrede was: “Vandag het God die mense in hierdie huis gered, want Saggeus is ook van die nageslag van Abraham.
10 Ek, die Seun van die mens, het gekom om almal wat verlore is, te soek en te red.”
11 Jesus het nog iets gesê vir die mense wat na Hom geluister het. Hy het vir hulle ’n gelykenis vertel. Hy het dit gedoen omdat Hy naby Jerusalem was en omdat die mense gedink het wanneer Jesus in Jerusalem kom, dan sal God dadelik Koning word en regeer. Maar Jesus wou vir hulle reg leer.
12 Daarom het Hy vir hulle gesê: “Daar was ’n man, hy was ’n koning se seun. Hy het na ’n ver land gegaan om eers daar koning te word. Daarna sou hy terugkom en koning wees oor sy eie mense.