36 Dieselfde dag was daar ook ’n profeet in die tempel. Haar naam was Anna en sy was baie oud. Sy was ’n dogter van Fanuel, uit die Aser-stam. Sy het getrou toe sy jonk was, en haar man het ná sewe jaar gesterf.
37 Nadat hy gesterf het, het sy nie weer getrou nie. Sy was nou 84 jaar oud en sy was elke dag by die tempel. Sy het God elke dag en nag gedien en gevas en gebid.
38 Anna het by Josef en Maria gaan staan en sy het God gedank. Sy het oor Jesus gepraat met almal wat geweet het dat God Jerusalem wil vrymaak, almal wat daarvoor gewag het.
39 Josef en Maria het alles gedoen wat die wette van die Here gesê het en toe het hulle teruggegaan na hulle stad Nasaret in Galilea.
40 Die Kindjie het groot en sterk geword. God het vir Hom baie wysheid gegee en God was goed vir Hom.
41 Jesus se ouers het elke jaar na Jerusalem gegaan om die Paasfees te vier.
42 Toe Jesus twaalf jaar oud was, het hulle weer, soos altyd, na Jerusalem gegaan om die Paasfees te vier.