5 Die Joodse leiers het daaroor met mekaar gepraat en gesê: “As ons sê: ‘God het hom gestuur,’ dan sal Jesus vra: ‘Hoekom het julle nie geglo wat Johannes gesê het nie?’
6 Maar ons kan ook nie sê: ‘Dit was mense wat vir Johannes gestuur het om te doop’ nie. As ons dit sê, dan sal al die mense ons met klippe wil doodgooi, want hulle het geglo Johannes is ’n profeet.”
7 Daarom het hulle vir Jesus gesê hulle weet nie wie vir Johannes gestuur het nie.
8 Toe sê Jesus vir hulle: “Dan sal Ek ook nie vir julle sê wie het vir My gesê Ek mag hierdie dinge doen nie.”
9 Toe begin Jesus vir die mense hierdie gelykenis vertel. Hy het gesê: “’n Man het ’n klomp wingerdstokke op sy grond geplant. Daarna het hy gesê ander mense mag die wingerd huur. Toe het hy ’n lang tyd weggegaan.
10 Toe dit tyd was om die druiwe te pluk, het hy ’n slaaf na die mense toe gestuur sodat hulle vir die eienaar die druiwe kan gee wat hy moet kry. Maar die mense het die slaaf geslaan en hom weggejaag. Hulle het vir hom niks gegee nie.
11 Die eienaar van die wingerd het nog ’n slaaf na hulle toe gestuur. Die mense het hom ook geslaan en hulle het slegte dinge gedoen aan hom. Hulle het hom weggejaag en vir hom niks gegee nie.