7 Daarom het hulle vir Jesus gesê hulle weet nie wie vir Johannes gestuur het nie.
8 Toe sê Jesus vir hulle: “Dan sal Ek ook nie vir julle sê wie het vir My gesê Ek mag hierdie dinge doen nie.”
9 Toe begin Jesus vir die mense hierdie gelykenis vertel. Hy het gesê: “’n Man het ’n klomp wingerdstokke op sy grond geplant. Daarna het hy gesê ander mense mag die wingerd huur. Toe het hy ’n lang tyd weggegaan.
10 Toe dit tyd was om die druiwe te pluk, het hy ’n slaaf na die mense toe gestuur sodat hulle vir die eienaar die druiwe kan gee wat hy moet kry. Maar die mense het die slaaf geslaan en hom weggejaag. Hulle het vir hom niks gegee nie.
11 Die eienaar van die wingerd het nog ’n slaaf na hulle toe gestuur. Die mense het hom ook geslaan en hulle het slegte dinge gedoen aan hom. Hulle het hom weggejaag en vir hom niks gegee nie.
12 Die eienaar van die wingerd het toe ’n derde slaaf gestuur. Maar die mense het hierdie slaaf ook seergemaak en hom weggejaag.
13 Toe het die eienaar van die wingerd gesê: ‘Wat moet ek nou doen? Ek is baie lief vir my seun, ek sal hóm na hulle toe stuur. Hulle sal miskien my seun respekteer.’