9 Toe begin Jesus vir die mense hierdie gelykenis vertel. Hy het gesê: “’n Man het ’n klomp wingerdstokke op sy grond geplant. Daarna het hy gesê ander mense mag die wingerd huur. Toe het hy ’n lang tyd weggegaan.
10 Toe dit tyd was om die druiwe te pluk, het hy ’n slaaf na die mense toe gestuur sodat hulle vir die eienaar die druiwe kan gee wat hy moet kry. Maar die mense het die slaaf geslaan en hom weggejaag. Hulle het vir hom niks gegee nie.
11 Die eienaar van die wingerd het nog ’n slaaf na hulle toe gestuur. Die mense het hom ook geslaan en hulle het slegte dinge gedoen aan hom. Hulle het hom weggejaag en vir hom niks gegee nie.
12 Die eienaar van die wingerd het toe ’n derde slaaf gestuur. Maar die mense het hierdie slaaf ook seergemaak en hom weggejaag.
13 Toe het die eienaar van die wingerd gesê: ‘Wat moet ek nou doen? Ek is baie lief vir my seun, ek sal hóm na hulle toe stuur. Hulle sal miskien my seun respekteer.’
14 Toe die mense die eienaar se seun sien, het hulle vir mekaar gesê: ‘Hierdie seun sal eendag al die eienaar se goed kry. Kom ons maak hom dood, dan vat ons alles vir onsself.’
15 Hulle het die eienaar se seun uit die wingerd gejaag en hulle het hom doodgemaak. Wat dink julle, wat sal die eienaar van die wingerd met die mense doen?