27 Baie mense het agter Jesus geloop. Party van die vroue het hulleself op die bors geslaan en hulle het oor Jesus gehuil.
28 Toe draai Jesus om en sê vir hulle: “Vroue van Jerusalem, julle moenie oor My huil nie. Julle moet oor julleself huil en oor julle kinders.
29 Julle moet weet, daar sal ’n tyd kom wanneer die mense sal sê vroue wat nie kinders kan hê nie, en ook vroue wat nooit kinders gehad het nie, is gelukkige mense.”
30 Jesus het ook gesê: “In daardie tyd sal die mense vir die berge en die heuwels sê: ‘Julle moet op ons val! Julle moet ons toemaak!’
31 Ek sê dit, want Ek is onskuldig, en kyk wat gebeur met My. Julle kan self dink wat sal gebeur met Jerusalem, Jerusalem wat skuldig is.”
32 Die soldate het ook twee ander mans weggevat om hulle saam met Jesus te kruisig. Hierdie mans was skelms.
33 Hulle kom toe by ’n plek, die plek se naam was Kopbeen. Daar het die soldate vir Jesus gekruisig. Hulle het ook die twee skelms gekruisig, een regs langs Jesus en die ander een links langs Hom.