29 Maar die twee mans het vir Jesus gesê: “Nee, bly by ons, want dit is amper aand, die dag is verby.”Jesus het toe saam met hulle by die huis ingegaan en Hy het by hulle gebly.
30 Toe hulle saam begin eet, het Jesus die brood geneem en Hy het vir God dankie gesê daarvoor. Hy het die brood gebreek en dit vir die twee mans gegee.
31 Toe het God hulle laat sien dat dit Jesus is. Maar toe het Jesus skielik verdwyn, hulle kon Hom nie meer sien nie.
32 Die mans het vir mekaar gesê: “Nou weet ons hoekom ons so opgewonde was toe Hy met ons op die pad gepraat het en vir ons alles uit die Bybel verduidelik het.”
33 Die twee mans het dadelik opgestaan en hulle het teruggegaan na Jerusalem. Hulle het die elf apostels daar gekry en ook die ander mense by hulle.
34 Die apostels en die ander mense het vir die mans vertel dat die Here regtig weer lewe en dat Hy aan Simon verskyn het.
35 Toe het die twee mans vir die apostels en die ander mense vertel wat alles gebeur het. Hulle het gesê hulle het besef dit is Jesus toe Hy die brood gebreek het.