33 “Julle weet ’n goeie boom dra goeie vrugte en ’n slegte boom dra slegte vrugte. ’n Mens ken ’n boom wanneer jy sien watter vrugte dit dra.
34 Julle is soos slange! Julle is self slegte mense, daarom kan julle nie iets sê wat goed is nie. Die dinge wat ’n mens sê, wys wat in sy hart is.
35 ’n Goeie mens het ’n klomp goeie dinge in sy hart, daarom praat hy altyd goeie en mooi woorde. ’n Slegte mens het ’n klomp slegte dinge in sy hart, daarom praat hy altyd slegte dinge.
36 Maar Ek sê vir julle, die dag wanneer God die mense sal oordeel, sal elke mens vir God moet antwoord oor alles wat hy gesê het wat nie reg is nie.
37 Want God sal julle oordeel oor wat julle gesê het, en Hy sal besluit of julle skuldig is of onskuldig.”
38 Party skrifgeleerdes en Fariseërs het na Jesus toe gekom. Hulle het vir Hom gesê: “Meneer, ons wil hê U moet vir ons ’n wonderteken wys sodat ons kan sien U kom van God.”
39 Maar Jesus het vir hulle gesê: “Slegte en goddelose mense soos julle wil ’n wonderteken hê, hulle wil ’n bewys sien. God sal nie ’n teken vir julle wys nie. Julle sal net een teken kry, dit is die teken van die profeet Jona.