Matteus 22 ABA

Die gelykenis van die groot fees-ete

1 Jesus het weer vir die mense gelykenisse vertel. Hy het gesê:

2 “Waar God wat in die hemel is, Koning is, is dit soos wanneer ’n koning ’n fees-ete gehou het vir sy seun wat getrou het.

3 Hy het mense na die troue genooi, en hy het sy slawe gestuur om die mense te gaan roep om te kom. Maar die mense wou nie kom nie.

4 Die koning het ander slawe gestuur en vir hulle gesê: ‘Sê vir die mense wat ek genooi het: Alles is nou gereed vir my fees-ete. Ek het beeste en vet kalwers laat slag, en alles is gereed. Kom na die fees-ete.’

5 Maar die mense wat genooi was, wou nie kom nie, hulle het weggegaan. Een man het na sy stuk grond gegaan, en ’n ander man na sy besigheid.

6 Ander mense het sy slawe gegryp, hulle het slegte dinge gedoen aan sy slawe en hulle het die slawe doodgemaak.

7 Die koning het toe kwaad geword, en hy het sy soldate gestuur om daardie moordenaars dood te maak en hulle stad te verbrand.

8 Die koning sê toe vir sy slawe: ‘Alles is gereed vir die fees-ete, maar die mense wat ek genooi het, was nie die regte mense om na die fees te kom nie.

9 Gaan nou na die plekke waar die hoofpaaie uit die stad uitgaan en nooi almal wat julle sien om te kom na die fees-ete.’

10 Die slawe het toe uitgegaan op die paaie en hulle het almal bymekaargemaak wat hulle gesien het, slegte mense en goeie mense. Die saal vir die fees-ete het vol geword van die mense wat kom eet het.

11 Toe die koning in die saal ingaan om die mense te groet, sien hy daar is iemand wat nie fees-klere aan het nie.

12 Die koning het vir hom gesê: ‘My vriend, hoe het jy hier ingekom? Jy dra nie die regte klere vir ’n fees nie.’ Maar die man kon nie sê hoekom hy nie die regte klere aangetrek het nie.

13 Toe sê die koning vir sy slawe: ‘Bind sy hande en voete vas en gooi hom in die donker plek. Daar sal die mense huil en hard op hulle tande byt van die pyn.’

14 Want God nooi baie mense, maar Hy kies net ’n paar mense.”

Aan wie die mense belasting moet betaal

15 Die Fariseërs het toe gaan planne maak. Hulle wou hê Jesus moet iets sê wat verkeerd is, hulle wou hê Hy moet probleme kry.

16 Hulle stuur toe hulle leerlinge saam met Herodiane na Jesus toe om vir Hom te sê: “Meneer, ons weet jy praat altyd die waarheid. Jy leer vir die mense wat God wil hê hulle moet doen, en alles wat jy vir hulle leer, is waar. Jy is nie bang vir wat die mense van jou sê nie. Jy kyk nie wie mense is nie, jy doen dieselfde aan almal.

17 Maar sê vir ons: Is dit reg om aan die keiser belasting te betaal of nie?”

18 Maar Jesus het geweet hulle is slegte mense en Hy het vir hulle gesê: “Julle skynheilige mense, hoekom wil julle hê Ek moet iets sê wat vir My probleme kan gee?

19 Bring vir My die geldstuk waarmee mense belasting betaal.”Hulle bring toe vir Jesus ’n silwer geldstuk,

20 en Hy vra vir hulle: “Wie se kop en wie se naam is op hierdie geld?”

21 Hulle het vir Hom gesê: “Dit is die keiser se kop en sy naam.”Jesus sê toe vir hulle: “Julle moet aan die keiser betaal wat aan die keiser behoort, en julle moet ook aan God betaal wat aan God behoort.”

22 Toe hulle dit hoor, was hulle verbaas en hulle het weggegaan van Jesus.

Mense wat gesterf het, sal weer lewe

23 Daardie dag het ’n paar Sadduseërs na Jesus toe gekom. Die Sadduseërs het nie geglo dat die mense wat dood is, weer sal lewe nie. Hulle het vir Jesus gesê:

24 “Meneer, Moses het in sy wette geskryf wat ons moet doen. Moses het gesê: ‘Wanneer ’n man sterf en sy vrou lewe nog, en hulle het nie kinders nie, dan moet sy broer met die weduwee trou. Wanneer die vrou dan kinders kry, dan sal dit sy broer wat dood is, se nageslag wees.’

25 “Daar was sewe broers hier by ons. Die oudste broer het getrou. Hy het gesterf, maar hy het nie kinders gehad nie. Daarom het die tweede broer met die oudste broer se weduwee getrou.

26 Dieselfde het gebeur met die tweede broer en met die derde broer en met al die ander broers tot die sewende broer.

27 Later het die vrou ook gesterf.

28 Nou vra ons: Wie se vrou sal sy wees wanneer almal wat dood is, weer lewe? Want die sewe broers was almal met haar getroud.”

29 Jesus het vir hulle gesê: “Julle is heeltemal verkeerd. Dit is omdat julle nie die Ou Testament en die krag van God ken nie.

30 Wanneer die mense weer lewe, dan sal hulle nie getroud wees nie, en hulle sal nie trou nie. Hulle sal dan wees soos die engele in die hemel.

31 Julle vra oor mense wat gesterf het wat weer sal lewe. Maar het julle nie gelees nie? God het vir julle gesê:

32 ‘Ek is die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob.’“God is nie die God van dooie mense nie, Hy is die God van mense wat lewe.”

33 Toe hulle dit hoor, was al die mense baie verbaas oor wat Jesus vir hulle geleer het.

Die belangrikste wet in die Ou Testament

34 Die Fariseërs het gehoor Jesus het die Sadduseërs so goed geantwoord dat die Sadduseërs nie geweet het wat om nog te vra nie. Die Fariseërs het toe bymekaargekom.

35 Een van hulle wat die Joodse wette goed geken het, wou hê Jesus moet iets sê wat vir Hom probleme sal gee.

36 Hy het vir Jesus gevra: “Wat is die belangrikste wet van die Here?”

37 Jesus het vir hom gesê: “ ‘Jy moet vir jou God die Here lief wees met jou hele hart en met jou hele lewe en met jou hele verstand.’

38 Dit is die eerste en belangrikste wet.

39 Die tweede wet is net so belangrik. Dit is: ‘Jy moet lief wees vir jou naaste soos jy lief is vir jouself.’

40 “Hierdie twee wette sê alles wat die Wette van Moses en die boeke van die profete vir ons leer.”

Is die Christus die Seun van Dawid?

41 Toe die Fariseërs daar bymekaar was, het Jesus vir hulle gevra:

42 “Wat dink julle van die Christus? Wie se seun is Hy?”Hulle het gesê: “Hy is die Seun van Dawid.”

43 Jesus sê toe vir hulle: “Hoekom het die Heilige Gees vir Dawid gesê hy moet die Christus ‘Here’ noem?

44 “Dawid het gesê:“Die Here het vir my Here,die Koning, gesê:Sit hier langs My,op die belangrikste plek.Ek sal jou vyandevoor jou laat buig,en jy sal jou voete op hulle sit.

45 “Dawid self noem die Christus ‘Here.’ Hoe kan die Christus dan Dawid se seun wees?”

46 Niemand kon vir Jesus antwoord nie. Van daardie dag af wou niemand weer vir Jesus iets vra nie.

hoofstukke

1 2 3 4 5 6 7 8 9 10 11 12 13 14 15 16 17 18 19 20 21 22 23 24 25 26 27 28