25 Maar die vrou het na Jesus toe gekom en sy het voor Hom gekniel en gesê: “Here, help my asseblief!”
26 Jesus het vir haar gesê: “Die Jode is die kinders van God. Dit is nie reg om die kinders se brood te vat en dit vir die hondjies te gooi nie.”
27 Die vrou sê toe vir Jesus: “Dit is waar, Here, maar ook die hondjies eet van die krummels wat afval van die tafels van hulle eienaars.”
28 Jesus het vir haar gesê: “Mevrou, jou geloof is groot. Wat jy wil hê, sal gebeur.”En God het die vrou se dogter op daardie oomblik gesond gemaak.
29 Jesus het weggegaan en Hy het langs die See van Galilea gekom. Hy het teen die berg opgegaan en daar gaan sit.
30 ’n Klomp mense het na Hom toe gekom. Hulle het mense saamgebring wat verlam was, of blind, of kreupel, of doof en stom, en hulle het ook baie ander siek mense gebring. Hulle het die siek mense voor Jesus se voete neergesit en Hy het hulle gesond gemaak.
31 Die mense was verbaas toe hulle sien dat die mense wat doof en stom was, kan praat, dat die kreupel mense gesond is en dat die blindes kan sien. En hulle het die God van Israel geprys.