16 Baie mense wat nou onbelangrik is, sal belangrik wees, en mense wat nou belangrik is, sal onbelangrik wees.”
17 Jesus was op die pad na Jerusalem. Hy het met die twaalf dissipels alleen gepraat en vir hulle gesê:
18 “Luister, ons gaan na Jerusalem. Iemand sal My, die Seun van die mens, vir die priesterleiers en vir die skrifgeleerdes gee, en hulle sal besluit dat Ek moet sterf.
19 Dan sal hulle My vir die heidene gee, en die heidene sal My spot en My met ’n sweep slaan en My kruisig. Maar op die derde dag sal God My weer laat lewe.”
20 Die ma van die seuns van Sebedeus het saam met haar seuns na Jesus toe gekom. Sy het voor Hom gekniel om vir Hom iets te vra.
21 Jesus het vir haar gevra: “Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen?”Sy sê toe vir Hom: “U sal koning wees oor almal. Belowe dat U dan vir hierdie twee seuns van my die sitplekke langs U sal gee, een regs langs U en een links langs U.”
22 Jesus het vir haar gesê: “Julle weet nie wat julle vra nie. Kan julle swaarkry soos Ek moet swaarkry? Kan julle uit die beker drink waaruit Ek moet drink?”Hulle antwoord Hom: “Ons kan dit doen.”