8 Maar die offisier sê vir Jesus: “Nee, Here, ek is nie ’n Jood nie, ek is nie goed genoeg dat U in my huis kan inkom nie. U kan net sê die siekte moet weggaan, dan sal my slaaf gesond word.
9 Ek is self ’n man wat moet doen wat ’n belangriker offisier vir my sê, en ek het soldate wat moet doen wat ek vir hulle sê. Wanneer ek vir een van hulle sê hy moet gaan, dan gaan hy. En wanneer ek vir ’n ander een sê hy moet kom, dan kom hy. Wanneer ek vir my slaaf sê hy moet iets doen, dan doen hy dit.”
10 Toe Jesus hoor wat die offisier gesê het, was Hy baie verbaas. Hy sê toe vir al die mense wat saam met Hom loop: “Ek sê vir julle, en dit is seker: Ek het nog nooit ’n Israeliet gesien wat so sterk glo soos hierdie man glo nie.
11 Ek sê vir julle: Baie mense sal eendag kom van oral op die aarde. Hulle sal saam met Abraham, Isak en Jakob kom eet en feesvier in die hemel waar God die Koning is.
12 Maar die mense wat dink net húlle is die kinders van Abraham, Isak en Jakob, en wat dink God is net húlle koning, God sal hulle uitgooi in die donker plek. Daar sal die mense huil en hard op hulle tande byt van die pyn.”
13 Jesus sê toe vir die offisier: “Gaan terug na jou huis. Wat jy geglo het, sal gebeur.”En sy slaaf het presies op daardie tyd gesond geword.
14 Jesus het na Petrus se huis gegaan. Hy het gesien Petrus se skoonma is siek in die bed en sy het ’n hoë koors.