12 Dit het gebeur soos die Here voorheen vir die profeet Jehu gesê het om vir die mense te sê.
13 Dit was oor die sondes wat Baesa en sy seun Ela gedoen het en oor wat hulle die mense van Israel laat doen het. Hulle het die Here, die God van Israel, kwaad gemaak, want hulle het afgode gedien.
14 Al die ander dinge wat Ela gedoen het, is geskryf in die dagboeke van die konings van Israel.
15 Simri het koning van Israel geword in die sewe-en-twintigste jaar nadat Asa koning van Juda geword het. Hy was sewe dae lank koning in Tirsa. Sy soldate was in die kamp by die stad Gibbeton in die land van die Filistyne.
16 Die soldate het gehoor dat Simri saam met ander mense planne gemaak het en dat hulle die koning vermoor het. Die soldate het toe daardie dag in die kamp vir Omri, die hoof van die leër, koning gemaak van Israel.
17 Omri en al die manne van Israel het van Gibbeton na Tirsa gegaan en hulle het die stad van al die kante aangeval.
18 Toe Simri sien dat hulle die stad oorwin, het hy gevlug tot agter die sterk mure van die paleis. Hy het die paleis bo-oor hom aan die brand gesteek en hy het gesterf.