9 Ela se offisier Simri was die hoof van die helfte van Ela se oorlogkarre, en Simri het saam met ander manne ’n plan gemaak teen Ela. Ela was besig om te drink en dronk te word in die huis van Arsa, die hoof van die paleis in die stad Tirsa.
10 Simri het daarnatoe gegaan en hy het vir Ela doodgemaak. Dit was in die sewe-en-twintigste jaar nadat Asa koning van Juda geword het. Simri het koning geword ná Ela.
11 Nadat Simri koning geword het, het hy almal in die koningshuis van Baesa laat doodmaak. Hy het nie een man of seun of iemand in die familie of ’n vriend van Baesa laat lewe nie.
12 Dit het gebeur soos die Here voorheen vir die profeet Jehu gesê het om vir die mense te sê.
13 Dit was oor die sondes wat Baesa en sy seun Ela gedoen het en oor wat hulle die mense van Israel laat doen het. Hulle het die Here, die God van Israel, kwaad gemaak, want hulle het afgode gedien.
14 Al die ander dinge wat Ela gedoen het, is geskryf in die dagboeke van die konings van Israel.
15 Simri het koning van Israel geword in die sewe-en-twintigste jaar nadat Asa koning van Juda geword het. Hy was sewe dae lank koning in Tirsa. Sy soldate was in die kamp by die stad Gibbeton in die land van die Filistyne.