10 Dawid het vir God die Here gevra: “Moet ek die Filistyne gaan aanval? Sal U my laat wen teen hulle?”Die Here het vir Dawid gesê: “Ja, jy moet hulle gaan aanval, Ek sal jou laat wen teen hulle.”
11 Dawid het na die stad Baäl-Perasim gegaan en hy het die Filistyne daar oorwin. Hy het gesê: “God het my vyande oorwin en stukkend geslaan soos water alles stukkend breek. Hy het gesê ek moet dit doen.”Dit is hoekom hulle daardie plek Baäl-Perasim noem.
12 Die Filistyne het hulle gode daar gelos, en Dawid het gesê sy manne moet die gode verbrand.
13 Die Filistyne het weer na Spook-laagte gekom en hulle het daar gereedgestaan.
14 Dawid het weer vir God gevra wat hy moet doen. God het vir hom gesê: “Jy moenie vir hulle van voor aanval nie, jy moet agter-om hulle gaan en jy moet hulle aanval by die melkbosse.
15 Jy sal in die boonste punte van die melkbosse iets hoor, jy sal dink jy hoor dat mense daar loop. Wanneer jy dit hoor, dan moet jy die oorlog begin, want dit is Ek wat voor jou gaan om die Filistyne te oorwin.”
16 Dawid het gedoen wat God gesê het, en hy het die Filistyne oorwin, van die stad Gibeon tot by die stad Geser.