22 Die hoof van die Dan-stam was Asarel seun van Jerogam. Dit was die hoofde van die stamme van Israel.
23 Dawid het nie die manne wat jonger as 20 jaar was, laat tel nie, want die Here het belowe dat Hy die Israeliete so baie sal maak soos die sterre in die lug.
24 Joab seun van Seruja het begin om hulle te tel, maar hy kon hulle nie klaar tel nie, want die Here het kwaad geword vir die Israeliete omdat Joab hulle getel het. Daarom is daar nie in koning Dawid se dagboek opgeskryf hoeveel manne daar was wat jonger as 20 jaar was nie.
25 Asmawet seun van Adiël was die hoof oor die koning se stoorkamers in Jerusalem. Joganan seun van Ussia was die hoof oor die stoorkamers buite Jerusalem, in die stede en die dorpe en die plekke wat hoë en sterk mure gehad het.
26 Esri seun van Kelub was die hoof oor die mense wat buite Jerusalem in die grond gewerk het.
27 Simeï van die stad Rama was die hoof oor die wingerde. Sabdi van die stad Sefam was die hoof oor die stoorkamers in die wingerde waar hulle die wyn gebêre het.
28 Baäl-Ganan van die stad Gedera was die hoof oor die olyfbome en die wildevyebome wat in die Laeveld was. Joas was die hoof oor die stoorkamers waar hulle die olyf-olie gebêre het.