2 Elkana het twee vroue gehad. Die naam van die een vrou was Hanna en die naam van die ander vrou was Peninna. Peninna het kinders gehad, maar Hanna het nie kinders gehad nie.
3 Elkana het elke jaar van sy stad Ramatajim na die stad Silo gegaan om daar te bid en te offer vir die Here wat oor alles regeer. Hofni en Pinehas, die twee seuns van Eli, was in Silo priesters van die Here.
4 Wanneer Elkana ’n offer vir die Here gebring het, dan het hy vir Peninna en al haar seuns en dogters elkeen ’n stuk vleis gegee.
5 Hy was lief vir Hanna, maar hy kon vir haar net een stuk vleis gee, want die Here het nie vir haar kinders laat kry nie.
6 Dan het die ander vrou vir Hanna baie gespot en verneder omdat die Here nie vir Hanna kinders laat kry het nie.
7 Elkana het dit elke jaar gedoen. Wanneer Hanna na die tempel gegaan het, dan het Peninna haar gespot. Hanna het dan gehuil en sy het nie geëet nie.
8 Dan het haar man Elkana vir haar gesê: “Hanna, hoekom huil jy en hoekom eet jy nie? Hoekom is jy hartseer? Jy weet jy het vir my, en dit is beter as om tien seuns te hê.”