1 Die Israeliete het gaan oorlog maak teen die Filistyne. Hulle het hulle tente opgeslaan by die stad Eben-Haeser, en die Filistyne het hulle tente opgeslaan by die stad Afek.
2 Die Filistyne het begin veg teen die Israeliete, en die Israeliete het verloor. Die Filistyne het omtrent 4 000 Israeliete doodgemaak.
3 Toe die Israeliete terugkom in hulle kamp, het hulle leiers gevra: “Hoekom het die Here ons vandag laat verloor teen die Filistyne? Ons moet die verbondskis van die Here na ons toe bring. Dan kan dit by ons wees en dan sal dit ons red van ons vyande.”
4 Die manne het mense na die stad Silo gestuur om die verbondskis van die Here daar te gaan haal, die Here wat oor alles regeer en wat sy troon bokant die gerubs het. Hofni en Pinehas, die twee seuns van Eli, was by die verbondskis van God.
5 Toe die verbondskis van die Here by die kamp van die Israeliete kom, het hulle almal hard geskree, want hulle wou begin oorlog maak. Die aarde het geskud.
6 Die Filistyne het gehoor die Israeliete skree en hulle wil weer begin veg. Hulle het gevra: “Hoekom skree die Hebreërs so?”Toe die Filistyne hoor dat die kis van die Here in die kamp van die Israeliete gekom het,
7 het hulle bang geword en gesê: “God het na die kamp van die Israeliete gekom. Dit sal sleg gaan met ons. So iets het nog nooit gebeur nie.
8 Dit sal nou sleg gaan met ons, wie sal ons red van hierdie sterk God? Dit is dieselfde God wat die Egiptenaars in die woestyn siek gemaak het en hulle laat sterf het.
9 Filistyne, julle moet sterk wees, julle moet dapper wees! Anders sal julle verloor teen die Hebreërs en dan sal julle moet werk vir hulle, soos hulle vir julle gewerk het. Julle moet dapper wees, julle moet hard veg.”
10 Die Filistyne het geveg, en hulle het die Israeliete weer oorwin. Die Israeliete het huis toe gevlug. Baie Israeliete het gesterf, 30 000 is dood.
11 Die Filistyne het ook die kis van God gevat, en Eli se twee seuns, Hofni en Pinehas, het ook gesterf.
12 ’n Man van die Benjamin-stam het gehardloop van die plek waar hulle geveg het en hy het dieselfde dag in Silo aangekom. Hy het sy klere geskeur en hy het grond op sy kop gegooi.
13 Toe hy in Silo kom, het Eli op ’n stoel gesit en hy het gewag dat iemand moet kom, want hy was bekommerd oor die kis van God. Toe die man in die stad kom en vertel wat gebeur het, het al die mense in die stad geskree.
14 Eli het gehoor hulle skree, en hy het gevra: “Hoekom skree die mense?”Toe kom die man vinnig na Eli toe om vir hom te vertel wat gebeur het.
15 Eli was 98 jaar oud, en hy kon nie meer sien nie.
16 Die man het vir Eli gesê: “Ek kom van die plek waar hulle geveg het, ek het vandag daar weggevlug.”Eli het gevra: “My seun, wat het gebeur?”
17 Toe sê die boodskapper: “Die Israeliete het gevlug vir die Filistyne. Baie manne het gesterf. Jou twee seuns Hofni en Pinehas is ook dood. En die Filistyne het die kis van God gevat.”
18 Dadelik toe Eli hoor wat die man sê oor die kis van God, het hy agteroor van sy stoel afgeval daar by die poort. Hy het sy nek gebreek en hy het gesterf. Hy was oud en swaar. Eli was 40 jaar lank die leier van Israel.
19 Eli se skoondogter, die vrou van Pinehas, was swanger, en die tyd was naby dat sy haar baba moes kry. Toe sy hoor dat die Filistyne die kis van God gevat het en dat haar skoonpa en haar man dood is, het sy pyn begin kry en krom gebuig, en haar kind is gebore. Sy kon dit nie keer nie.
20 Sy het begin sterf, en die vroue by haar het gesê: “Jy moenie bekommerd wees nie, jy het ’n seun gekry.”Sy het nie geantwoord nie, en dit het gelyk of sy hulle nie hoor nie.
21 Sy het gesê die seun se naam moet Ikabod wees, want die Here is weg uit die land Israel. Sy het dit gesê omdat die Filistyne die kis van God gevat het en omdat haar skoonpa en haar man dood is.
22 Sy het gesê: “Ja, die Here is weg uit die land Israel, want die Filistyne het die kis van God gevat.”