1 Nagas die Ammoniet het sy tente opgeslaan by die stad Jabes in Gilead. Hy wou oorlog maak teen die mense van die stad. Die leiers van die mense in Jabes het vir Nagas gesê: “As jy ’n ooreenkoms maak met ons, dan mag jy oor ons regeer.”
2 Die Ammoniet Nagas het vir hulle gesê: “Ek sal ’n ooreenkoms maak met julle, maar ek sal eers elkeen van julle se regter-oog uitsteek, want ek wil hê al die Israeliete moet skaam wees vir julle.”
3 Die leiers van die mense in Jabes het vir Nagas gesê: “Los ons sewe dae lank sodat ons boodskappers kan stuur deur die hele land Israel. As niemand ons red nie, dan sal ons uitkom na jou toe en ’n ooreenkoms maak.”
4 Toe die boodskappers in die stad Gibea-van-Saul kom en vir die mense daar alles vertel, het al die mense hard begin huil.
5 Saul het dieselfde tyd uit die veld teruggekom met die beeste en hy vra toe: “Hoekom huil die mense?”Hulle het vir hom vertel wat die manne van Jabes kom sê het.
6 Toe Saul dit hoor, het die Gees van God in hom gekom. Saul was baie kwaad.
7 Hy het ’n paar beeste gevat en hy het hulle in stukke gesny. Hy het die stukke met boodskappers gestuur na al die plekke in die land Israel. Die boodskappers moes vir die mense sê: “Julle almal moet kom om saam met Saul en Samuel te gaan. As iemand nie kom nie, dan sal ons sy beeste ook so in stukke sny.”Die mense het groot geskrik en hulle het almal gekom.