4 Die Israeliete het gesê: “Jy het nie slegte dinge aan ons gedoen nie, jy het ons nie laat swaarkry nie, jy het van niemand iets gevat nie.”
5 Toe sê Samuel vir hulle: “Die Here en sy gesalfde koning is getuies. Julle kan my nie beskuldig nie, ek het niks verkeerd gedoen nie.”Hulle het gesê: “Dit is waar.”
6 Daarna het Samuel vir die volk gesê: “Die Here het vir Moses en Aäron leiers gemaak en dit is Hy wat julle voorvaders uit die land Egipte gebring het.
7 Kom staan nou hier sodat ek vir julle kan vertel hoe goed die Here was vir julle en julle voorvaders, die Here moet dit hoor.
8 Nadat Jakob in Egipte gekom het, het julle voorvaders tot die Here gebid en hulle het gevra dat Hy hulle moet help. Die Here het vir Moses en Aäron gestuur, en hulle het julle voorvaders uit Egipte gebring en hier laat woon.
9 Maar julle voorvaders het hulle God die Here vergeet, en toe het die Here vir Sisera gebring om oorlog te maak teen die Israeliete. Sisera was die hoof van die leër van Hasor. Die Here het ook die Filistyne en die koning van Moab gebring om oorlog te maak teen die Israeliete.
10 Die Israeliete het tot die Here gebid en gevra dat Hy hulle moet help. Hulle het gesê: ‘Ons het sonde gedoen, want ons het weggegaan van die Here en ons het die Baäls en die Astartes gedien. Maar U moet ons nou red van ons vyande, dan sal ons vir U dien.’