21 Die Israeliete het in rye gaan staan, en die Filistyne het oorkant die Israeliete in rye gaan staan.
22 Dawid het die goed wat hy saamgebring het, gelos by die man wat die goed moes oppas, en hy het na die rye manne toe gehardloop. Toe hy daar kom, het hy vir sy broers gevra hoe dit gaan.
23 Die voorvegter se naam was Goliat. Hy het vorentoe gekom terwyl Dawid besig was om met sy broers te praat. Goliat was ’n Filistyn wat uit die stad Gat gekom het. Hy het weer gespog, soos voorheen, en Dawid het dit gehoor.
24 Al die manne van Israel het teruggestaan toe hulle die man sien. Hulle was baie bang.
25 Hulle het gesê: “Sien julle hierdie man wat vorentoe kom? Hy kom om vir die Israeliete te sê dat hulle niks beteken nie. Die koning sal die man wat hom wen, baie ryk maak. Die koning sal ook sy dogter met die man laat trou, en die man se familie sal nie meer vir die koning moet werk soos die ander Israeliete nie.”
26 Dawid het vir die manne wat by hom gestaan het, gevra: “Wat sal die koning doen vir die man wat hierdie Filistyn wen sodat hy nie meer die Israeliete sal spot nie? Want wie is hierdie Filistyn? Hy is ’n heiden. Hoekom sê hy die soldate van die God wat lewe, beteken niks?”
27 Die manne het vir Dawid gesê wat die koning sal doen vir die man wat die Filistyn oorwin.