25 Hulle het gesê: “Sien julle hierdie man wat vorentoe kom? Hy kom om vir die Israeliete te sê dat hulle niks beteken nie. Die koning sal die man wat hom wen, baie ryk maak. Die koning sal ook sy dogter met die man laat trou, en die man se familie sal nie meer vir die koning moet werk soos die ander Israeliete nie.”
26 Dawid het vir die manne wat by hom gestaan het, gevra: “Wat sal die koning doen vir die man wat hierdie Filistyn wen sodat hy nie meer die Israeliete sal spot nie? Want wie is hierdie Filistyn? Hy is ’n heiden. Hoekom sê hy die soldate van die God wat lewe, beteken niks?”
27 Die manne het vir Dawid gesê wat die koning sal doen vir die man wat die Filistyn oorwin.
28 Dawid se oudste broer Eliab het gehoor toe Dawid met die manne praat. Eliab het kwaad geword vir Dawid en hy het gesê: “Hoekom het jy hiernatoe gekom, en by wie het jy daardie skape en bokke in die veld gelos? Ek weet jy is parmantig en skelm. Jy het net gekom om te kyk hoe ons veg.”
29 Dawid het gesê: “Wat het ek verkeerd gedoen? Ek het net gevra.”
30 Dawid het weggedraai van Eliab. Hy het dieselfde vir die ander manne gevra, en hulle het vir hom dieselfde geantwoord.
31 Party manne het gehoor wat Dawid sê, en hulle het dit vir koning Saul gaan vertel. Saul het vir Dawid laat roep.