42 Toe die Filistyn vir Dawid sien, het hy gedink Dawid beteken niks, want Dawid was ’n jong seun. Hy was gesond en mooi.
43 Die Filistyn het vir Dawid gesê: “Dink jy ek is ’n hond? Hoekom kom jy met ’n kierie na my toe? Ek vervloek jou, my gode sal jou laat sterf.”
44 Hy het vir Dawid gesê: “Kom hier, ek sal jou vleis vir die voëls en die wilde diere gee.”
45 Dawid het vir die Filistyn gesê: “Jy kom na my toe met ’n swaard en met spiese, maar ek kom na jou toe omdat die Here my gestuur het, die Here wat oor alles regeer. Hy is die God van die manne van Israel. Jy het gesê hulle beteken niks.
46 Vandag sal die Here my laat wen teen jou, en ek sal jou oorwin en jou kop afkap. Ek sal die dooie liggame van die Filistyne vir die voëls en die wilde diere gee. Al die mense op die aarde sal weet daar is ’n God in die land Israel.
47 Almal wat hier bymekaar is, sal weet dat dit die Hére is wat mense red. Hy gebruik nie swaarde en spiese wanneer Hy hulle red nie. Dit is Hý wat besluit wat gebeur in ’n oorlog en Hy sal ons laat wen teen julle.”
48 Toe die Filistyn gereedmaak en nader kom om teen Dawid te veg, het Dawid vinnig vorentoe gehardloop om by hom te kom.