24 Nee, my seuns, ek hoor wat die volk van die Here oor julle sê, en dit is nie goeie dinge nie.
25 Wanneer ’n mens sonde doen teen ’n ander mens, dan kan die regters oordeel, maar wanneer ’n mens sonde doen teen God, wie moet dan oordeel?”Maar die seuns van Eli het nie geluister na hulle pa nie, want die Here wou hulle laat sterf.
26 Die seun Samuel het grootgeword, en die Here en die mense het gehou van Samuel.
27 ’n Man van God het na Eli toe gekom en vir hom gesê: “Die Here sê: Ek het vir jou voorvader se familie duidelik gewys wie Ek is. Dit was toe hulle in Egipte by die farao se huis was.
28 Ek het jou voorvader gekies uit al die Israeliete om my priester te wees. Ek het hom gekies om by my altaar te kom om die wierook-offer aan die brand te steek, en om die skouer-kleed te dra. Ek het vir sy familie al die vuur-offers gegee wat die Israeliete gebring het.
29 Hoekom maak jy nou of my offers en my presente nie belangrik is nie? Ek het gesê die Israeliete moet daardie offers en presente vir My bring. Hoekom respekteer jy jou seuns meer as vir My? Jy maak hulle vet met die beste van al die presente wat my volk Israel vir Mý bring.
30 “Omdat jy dit doen, sê Ek, die Here, die God van Israel: Ek het duidelik gesê jou nageslag en jou familie sal My altyd in die tempel dien, maar nou sê Ek dit sal nie meer so wees nie. Ek sal die mense eer wat My eer en Ek sal die mense verneder wat maak of Ek nie belangrik is nie.