14 Dawid het vir Saul se manne en vir Abner seun van Ner geskree: “Abner, kan julle my hoor?”Abner het geantwoord en gevra: “Wie is jy? Hoekom roep jy die koning?”
15 Toe sê Dawid vir Abner: “Ek het gedink jy is ’n dapper man, niemand in die land Israel is soos jy nie. Maar hoekom het jy nie jou koning opgepas nie? Iemand het in die kamp gekom, hy kon jou koning doodgemaak het as hy wou.
16 Jy het nie jou werk goed gedoen nie. So seker soos die Here lewe, julle moet sterf, want julle het nie waggestaan by julle koning nie, en hy is die gesalfde van die Here. Kyk, hier is die spies van die koning en die waterkruik wat by sy kop was.”
17 Saul het gehoor dit is Dawid wat praat, en hy het gevra: “Is dit jý wat praat, my seun Dawid?”En Dawid het gesê: “Ja, Meneer die koning, dit is ek wat praat.
18 Hoekom jaag jy my? Wat het ek gedoen wat verkeerd is?
19 Meneer die koning, jy moet asseblief nou luister na wat ek sê. As dit die Here is wat vir jou sê jy moet my doodmaak, dan moet ons vir Hom ’n offer bring. Maar as dit mense is, dan hoop ek die Here sal hulle straf, want dit is húlle wat my weggejaag het uit die land van die Here. Dit is húlle wat vir my sê ek moet ander gode gaan dien.
20 Maar jy moenie vir my laat sterf ver van die plek waar die Here is nie. Ek is so onbelangrik soos ’n vlooi, maar die koning van Israel jaag my soos ’n mens ’n voël in die berge jag.”