23 Maar nou is die kind dood. Hoekom moet ek nou vas? Kan ek hom weer laat lewe? Nee. Ek sal na hom toe gaan, maar hy kan nie terugkom na my toe nie.”
24 Dawid het sy vrou Batseba getroos. Hy het na haar toe gegaan en by haar geslaap. Sy het ’n seun gekry, en Dawid het hom Salomo genoem. Die Here was lief vir die kind.
25 Die Here het vir Natan gestuur om te sê sy naam moet Jedidja wees, want die Here is lief vir hom.
26 Joab het nog oorlog gemaak teen die stad Rabba van die Ammoniete. Hy het die deel van die stad oorwin waar die koning gewoon het.
27 Toe stuur Joab vir Dawid ’n boodskap. Hy het gesê: “Ek het oorlog gemaak teen Rabba en ek het die deel van die stad oorwin waar die water is.
28 Jy moet nou die manne wat oor is, bymekaarmaak en julle moet hier by die stad julle tente kom opslaan. Jy moet die stad oorwin, want as ek die stad oorwin, dan sal die stad aan my behoort.”
29 Dawid het al die manne laat bymekaarkom en hulle het na Rabba gegaan. Hy het teen die stad geveg en hy het dit oorwin.