1 Later het Absalom vir homself ’n oorlogkar en perde gekry en 50 manne wat voor die oorlogkar hardloop.
2 Hy het elke oggend vroeg opgestaan en hy het by die pad deur die poort gaan staan. Wanneer daar iemand kom wat wil hê dat die koning moet oordeel tussen hom en iemand anders, dan het Absalom hom geroep en vir hom gevra van watter stad hy kom. Wanneer die man dan sê van watter stad en van watter stam hy kom,
3 dan het Absalom vir hom gesê: “Luister na my, jy is reg, maar die koning sal nie wil luister na jou nie.”
4 Absalom het dan ook gesê: “As ek die regter in die land was, dan sou ek reg gedoen het aan elkeen wat na my toe gekom het om te vra dat ek moet oordeel tussen hom en iemand anders.”
5 En wanneer iemand nader gekom het om voor Absalom te buig, dan het Absalom sy hand uitgesteek en hy het hom gedruk en gesoen.
6 Absalom het dit gedoen met elke Israeliet wat na die koning toe gekom het sodat die koning moet oordeel tussen hom en iemand anders. Al die mense van Israel het lief geword vir Absalom.
7 Toe Absalom vier jaar lank terug was in Jerusalem, het hy vir die koning gevra: “Ek wil graag na Hebron gaan om te doen wat ek vir die Here belowe het.
8 Want toe ek in Gesur, in die land Aram, gewoon het, het ek ’n gelofte gemaak. Ek het belowe dat ek in Hebron offers sal gaan bring vir die Here as Hy my laat terugkom na Jerusalem.”
9 Die koning het vir hom gesê: “Jy mag gaan.” Absalom het gereedgemaak en hy het na Hebron gegaan.
10 Absalom het boodskappers gestuur na al die stamme van Israel toe en hy het vir hulle laat weet: “Wanneer julle die ramshoring hoor blaas, dan moet julle sê: ‘Absalom het koning geword in Hebron.’ ”
11 Absalom het 200 manne van Jerusalem genooi, en hulle het saam met hom gegaan. Hulle het nie saam met hom planne gemaak nie en hulle het nie geweet wat hy wil doen nie.
12 Terwyl hy die offers gebring het, het Absalom vir Agitofel laat haal uit sy stad Gilo. Agitofel was ’n raadgewer van Dawid. Die manne wat wou hê dat Absalom koning moet word, het meer en meer geword.
13 Iemand het vir Dawid gaan vertel dat die manne van Israel wou hê dat Absalom koning moet word.
14 Dawid het toe vir al sy amptenare wat by hom in Jerusalem was, gesê: “Julle moet gereedmaak sodat ons kan vlug, want Absalom sal nie een van ons laat lewe nie. As julle nie gou maak nie, sal Absalom vinnig kom en hy sal ons hier kry. Hy sal nie jammer wees vir ons nie, hy sal al die mense in die stad doodmaak.”
15 Die amptenare van die koning het vir hom gesê: “Die koning moet sê wat hy wil hê, ons sal dit doen.”
16 Die koning en sy hele familie het toe begin loop en hulle het uit die stad gegaan. Hy het tien van sy byvroue daar laat bly om die paleis op te pas.
17 Toe die koning en al die mense uit die stad loop, het hulle gaan staan by die laaste huis by die kant van die stad.
18 Al sy amptenare het by hom verbygeloop, en ook al die Kretense en Filistyne wat die koning moes oppas. Daar het 600 manne van die stad Gat gekom saam met Dawid. Toe hulle by die koning verbyloop,
19 het Dawid vir Ittai van Gat gevra: “Hoekom wil jy ook saam met ons gaan? Draai om en bly by die nuwe koning, want jy kom van ’n ander land, jy woon nie in jou eie land nie.
20 Jy is nie lank hier nie. As jy saam met ons kom, dan sal jy swaarkry saam met ons wanneer ons moet vlug en oral moet gaan. Draai om en laat jou manne saam met jou teruggaan. Hulle moet by jou bly, dit is reg.”
21 Maar Ittai het vir die koning gesê: “So seker soos die Here lewe en so seker soos Meneer die koning lewe, ek wil wees op dieselfde plek waar Meneer die koning is, dit maak nie saak of ek sterf en of ek lewe nie.”
22 Toe sê Dawid vir Ittai: “Dan moet jy saamkom.”Ittai van Gat en al sy manne het saamgegaan, en ook al die oumense en kinders wat by hom was.
23 Almal in die land het hard gehuil, en al die mense het saamgegaan. Die koning het deur die Kedron-vallei gegaan en al die mense het verder geloop op die pad na die woestyn.
24 En toe kom Sadok ook, en saam met hom was al die Leviete wat die verbondskis van God dra. Hulle het die kis van God neergesit. Abjatar het ook gekom, en hulle het gewag totdat al die mense uit die stad is.
25 Maar toe sê die koning vir Sadok: “Jy moet die kis van God terugneem na die stad. As die Here genadig is vir my en as Hy my laat terugkom, dan sal ek die kis en sy staanplek weer sien.
26 Maar as die Here sê Hy hou nie van my nie, hier is ek, dan moet Hy met my doen wat Hy wil doen.”
27 Die koning het ook vir die priester Sadok gesê: “Jy moet kyk wat gebeur. Gaan terug na die stad, jy moenie bekommerd wees nie. Jou seun Agimaäs en Abjatar se seun Jonatan is altwee by julle.
28 Ek sal wag by die plek waar ’n mens deur die Jordaan-rivier na die woestyn kan gaan. Ek sal daar wag totdat julle vir my ’n boodskap stuur en vir my laat weet wat gebeur.”
29 Sadok en Abjatar het die kis van God teruggeneem na Jerusalem en hulle het daar gebly.
30 Dawid het teen die Olyf-berg opgegaan. Hy het geloop en huil. Daar was ’n doek oor sy kop en hy was kaalvoet. Al die mense by hom het doeke oor hulle koppe gegooi en hulle het geloop en huil.
31 Toe Dawid hoor dat Agitofel ook by die mense is wat wil hê dat Absalom koning moet word, het hy gebid: “Here, laat Agitofel se planne asseblief misluk.”
32 En toe Dawid bo-op die berg kom, het hy daar voor God gebuig. Gusai van die stad Erek het daar na hom toe gekom. Gusai het sy klere geskeur en daar was grond op sy kop.
33 Dawid het vir Gusai gesê: “As jy saam met my gaan, dan sal dit vir my moeilik wees,
34 maar jy sal my help as jy teruggaan na die stad en help dat Agitofel se planne nie slaag nie. Jy moet vir Absalom sê: ‘Koning, ek werk nou vir jou. Ek het altyd vir jou pa gewerk, maar nou werk ek vir jou.’
35 Die priesters Sadok en Abjatar sal daar naby jou wees. Jy moet vir hulle alles vertel wat jy in die paleis hoor.
36 Hulle twee seuns is daar by hulle. Dit is Sadok se seun Agimaäs en Abjatar se seun Jonatan. Julle moet hulle stuur om vir my alles te sê wat julle hoor.”
37 Dawid se vriend Gusai het in die stad gekom toe Absalom daar aankom.