1 Later het daar iets gebeur. Dawid se seun Absalom het ’n mooi suster gehad, haar naam was Tamar. Amnon, ’n ander seun van Dawid, was verlief op Tamar.
2 Amnon was so verlief op sy half-suster Tamar dat hy siek gevoel het, want sy was nog ’n jongmeisie en hy het nie geweet hoe hy alleen by haar kon kom nie.
3 Maar Amnon het ’n vriend gehad, sy naam was Jonadab. Jonadab was die seun van Dawid se broer Sima. Jonadab was ’n baie slim man.
4 Hy het vir Amnon gevra: “Jy is ’n prins. Hoekom lyk jy elke dag soos ’n man wat swaarkry? Vertel vir my.”Toe sê Amnon vir Jonadab: “Ek is verlief op Tamar, my broer Absalom se suster.”
5 Jonadab sê toe vir Amnon: “Jy moet op jou bed gaan lê en maak of jy siek is. Wanneer jou pa kom kyk hoe dit met jou gaan, dan moet jy vir hom vra: ‘Laat my suster Tamar asseblief kom, sy moet hier vir my iets gaarmaak en sy moet dit vir my gee om te eet.’ ”
6 Amnon het toe op sy bed gaan lê en hy het gemaak of hy siek is.Toe die koning kom kyk hoe dit met hom gaan, het hy vir die koning gevra: “Laat my suster Tamar asseblief kom, sy moet hier vir my twee broodjies bak en sy moet dit vir my gee om te eet.”
7 Die koning het toe vir Tamar in haar huis laat weet: “Gaan asseblief na jou broer Amnon se huis en maak vir hom iets om te eet.”