12 Toe sê die vrou: “Mag ek vir Meneer die koning nog iets vra?”Die koning sê toe: “Ja, vra.”
13 Sy sê toe: “Maar hoekom wil jy so ’n verkeerde ding doen aan die volk van God? Jy het gesê wat moet gebeur in my saak, maar toe het jy gewys dat jy self verkeerd doen. Hoekom? Want jy laat nie jou seun terugkom nie, jou seun wat in ’n ander land moet bly.
14 Ons moet almal sterf, ons is soos water wat op die grond val en wat niemand weer kan bymekaarmaak nie. Maar God wil nie graag iemand laat sterf nie, Hy wil graag hê dat iemand wat moes weggaan van Hom, weer moet terugkom.
15 En nou, ek was bang vir die mense. Koning, daarom het ek gekom om met jou te praat oor my probleem. Ek het gedink ek moet met die koning kom praat, miskien doen jy iets en help my met my probleem,
16 want die koning sal luister en my red van die persoon wat my en my seun altwee wil wegvat van die volk van God.
17 Ek het gedink die koning sal iets sê wat my veilig sal laat voel, want die koning is soos ’n engel van God wat luister en wat weet wat is reg en wat is verkeerd, en ek bid dat jou God die Here by jou sal wees.”
18 Die koning het vir die vrou gesê: “Ek wil vir jou iets vra, jy moet asseblief alles vir my vertel.”Sy sê toe: “Meneer die koning, vra asseblief wat jy wil vra.”