24 En toe kom Sadok ook, en saam met hom was al die Leviete wat die verbondskis van God dra. Hulle het die kis van God neergesit. Abjatar het ook gekom, en hulle het gewag totdat al die mense uit die stad is.
25 Maar toe sê die koning vir Sadok: “Jy moet die kis van God terugneem na die stad. As die Here genadig is vir my en as Hy my laat terugkom, dan sal ek die kis en sy staanplek weer sien.
26 Maar as die Here sê Hy hou nie van my nie, hier is ek, dan moet Hy met my doen wat Hy wil doen.”
27 Die koning het ook vir die priester Sadok gesê: “Jy moet kyk wat gebeur. Gaan terug na die stad, jy moenie bekommerd wees nie. Jou seun Agimaäs en Abjatar se seun Jonatan is altwee by julle.
28 Ek sal wag by die plek waar ’n mens deur die Jordaan-rivier na die woestyn kan gaan. Ek sal daar wag totdat julle vir my ’n boodskap stuur en vir my laat weet wat gebeur.”
29 Sadok en Abjatar het die kis van God teruggeneem na Jerusalem en hulle het daar gebly.
30 Dawid het teen die Olyf-berg opgegaan. Hy het geloop en huil. Daar was ’n doek oor sy kop en hy was kaalvoet. Al die mense by hom het doeke oor hulle koppe gegooi en hulle het geloop en huil.