10 Maar die koning het gesê: “Seuns van Seruja, ek en julle kan niks doen wanneer hy my vervloek nie. Dit is die Here wat vir hom gesê het hy moet vir Dawid vervloek. Niemand kan nou vir hom vra hoekom hy dit doen nie.”
11 Dawid het vir Abisai en al die amptenare gesê: “Onthou, my eie seun wil hê ek moet sterf, daarom moet julle nou hierdie man van die Benjamin-stam los. Hy vervloek my omdat die Here gesê het hy moet dit doen.
12 Die Here sien hoe swaar ek kry, miskien sal Hy dit weer goed laat gaan met my nadat die man my vandag vervloek het.”
13 Dawid en sy manne het verder gegaan. Simeï het teen die kant van die berg langs die pad geloop en hy het aangehou om vir Dawid te vervloek en om klippe en stof na hulle te gooi.
14 Die koning en al die mense by hom was baie moeg toe hulle by die Jordaan-rivier aankom, en Dawid het daar ’n bietjie gerus.
15 Toe Absalom en al die manne van Israel in Jerusalem aankom, was Agitofel by hom.
16 Dawid se vriend Gusai, van die stad Erek, het na Absalom toe gekom en hy het vir hom gesê: “Ek bid dat die koning lank sal lewe! Ek bid dat die koning lank sal lewe!”