1 In die tyd toe Dawid koning was, was daar een maal drie jaar lank hongersnood in die land. Dawid het vir die Here gevra hoekom dit so is, en die Here het gesê dit is omdat Saul mense laat vermoor het toe hy die mense van die stad Gibeon almal wou doodmaak.
2 Die mense van Gibeon was nie Israeliete nie, hulle was Amoriete. Die Israeliete het vir hulle belowe dat hulle kan aanhou lewe. Maar Saul het probeer om hulle almal dood te maak. Hy het gedink hy doen goed vir Israel en Juda. Koning Dawid het die mense van Gibeon geroep
3 en hy het vir hulle gevra: “Wat kan ek vir julle doen? Hoe kan ek julle help sodat julle weer sal wil hê dat dit goed moet gaan met die volk van die Here?”
4 Die mense van Gibeon het vir die koning gesê: “Ons wil nie silwer of goud hê van Saul en sy familie nie. En ons mag nie iemand van die volk Israel doodmaak nie.”Die koning het vir hulle gevra: “Sê vir my, wat moet ek vir julle doen?”
5 Hulle het vir die koning gesê: “Daar was ’n man wat ons mense doodgemaak het en wat ons almal wou doodmaak sodat ons nie meer ’n plek sal hê in die hele Israel nie.
6 Ons vra sewe manne van sy nageslag. Ons wil hulle ophang by die tempel in die stad Gibea-van-Saul, die stad van die man vir wie die Here gekies het.”Die koning het gesê: “Goed, ek sal die sewe manne gee.”