11 Die profeet Gad was Dawid se siener. Toe Dawid die volgende oggend opstaan, het die Here vir Gad gesê:
12 “Jy moet vir Dawid gaan sê Ek sê: Dawid, Ek noem drie dinge vir jou. Jy moet een kies, dan sal Ek dit met jou laat gebeur.”
13 Gad het na Dawid toe gegaan en hy het vir Dawid die boodskap gebring en gesê: “Wil jy hê daar moet sewe jaar lank hongersnood wees in jou land, of wil jy drie maande lank vlug vir jou vyande wat jou volg en jaag, of wil jy hê daar moet drie dae lank pes wees in jou land? Jy moet besluit en vir my sê wat ek moet sê vir Hom wat my gestuur het.”
14 Dawid het vir Gad gesê: “Ek het ’n groot probleem. Die Here moet met my doen wat Hy besluit, want Hy is baie genadig, maar Hy moenie my vir mense gee sodat hulle met my kan doen wat hulle wil nie.”
15 Die Here het pes laat kom in die land Israel van die oggend tot die tyd wat Hy gesê het. Daar het 70 000 mense gesterf, van die stad Dan tot by die stad Berseba.
16 Toe die engel sy hand uitsteek na Jerusalem om die mense van die stad te laat sterf, het die Here besluit dat die straf moet ophou. Hy het vir die engel wat die mense laat sterf het, gesê: “Stop, dit is nou genoeg, laat sak jou hand.”Die engel van die Here was by die dorsvloer van die Jebusiet Arauna.
17 Toe Dawid die engel sien wat die mense laat sterf, het hy vir die Here gesê: “Dit is ék wat sonde gedoen het, dit is ék wat verkeerd gedoen het. Wat het hierdie mense verkeerd gedoen? Niks. U moet mý en my familie straf.”