19 Abner het ook met die Benjamin-mense gepraat. Toe het hy vir Dawid in Hebron gaan sê die mense van Israel en die hele Benjamin-stam is gereed.
20 Abner het by Dawid in Hebron gekom, en daar was twintig manne saam met hom. Dawid het ’n groot ete gegee vir Abner en die manne by hom.
21 Toe het Abner vir Dawid gesê: “Ek wil nou gereedmaak en ek wil al die leiers van Israel bymekaarbring by Meneer die koning sodat hulle ’n ooreenkoms kan maak met jou. Dan sal jy koning wees van al die mense. Ek weet jy wil hulle koning wees.”Dawid het gesê Abner mag gaan, en niemand het vir Abner probeer keer nie.
22 Maar Joab en die manne van Dawid het vyande gaan aanval, en hulle kom toe in hierdie tyd terug. Hulle het baie goed saamgebring wat hulle gevat het. Abner was toe nie meer in Hebron nie, want Dawid het hom laat gaan en niemand het hom probeer keer nie.
23 Toe Joab en al sy manne in Hebron kom, het iemand vir Joab gesê: “Abner seun van Ner was hier by die koning, en die koning het hom laat gaan en niemand het hom probeer keer nie.”
24 Joab het na die koning toe gegaan en hy het vir hom gevra: “Wat het jy gedoen? Abner het hier by jou aangekom, en jy het gesê hy mag gaan. Hoekom?
25 Jy ken vir Abner seun van Ner. Hy het gekom om jou te bedrieg en te kyk wat hier by jou gebeur en wat jy alles doen.”