17 Natan het vir Dawid alles gesê wat die Here vir hom gesê en gewys het.
18 Koning Dawid het ingegaan in die tent en hy het voor die verbondskis gaan lê. Hy het gesê: “Here God, ek en my familie is nie belangrik nie. Hoekom het U so baie vir my gedoen?
19 En, Here, my Here, U het nog meer gedoen. U het ook nog gepraat oor u dienaar se koningshuis wat nog baie lank sal regeer. Dit, Here, my Here, is wat U gesê het moet gebeur met my, ’n mens.
20 Wat kan ek, Dawid, nog vir U sê? Here, my Here, U ken u dienaar.
21 U het dit besluit en U het hierdie groot ding gedoen om dit vir u dienaar te sê.
22 Daarom, Here, my Here, U is groot, niemand is soos U nie. U alleen is God, ons weet nie van ’n ander God nie.
23 En wie is soos u volk, soos Israel? U het net vir húlle gekies uit al die volke op die aarde en U het hulle vrygemaak om u volk te wees. U het vir Uself ’n groot Naam gemaak, want U het groot en wonderlike dinge gedoen vir u land toe U vir Uself hierdie volk uit Egipte vrygemaak het van ander volke en gode.