1 Later het Dawid die Filistyne heeltemal oorwin, en hulle was toe te swak om weer die mense van Juda te pla.
2 Dawid het ook die Moabiete oorwin. Hy het hulle in rye langs mekaar op die grond laat lê en hy het die rye met ’n maatlyn gemeet. Hy het twee maal met die maatlyn gemeet en dan het hy die manne laat doodmaak wat daar gelê het. Dan het hy weer een maal met die maatlyn gemeet en hy het die manne laat lewe wat daar gelê het. Die Moabiete moes vir Dawid werk en hulle moes belasting betaal vir hom.
3 Dawid het na die Eufraat-rivier gegaan om sy gedenksteen weer regop te sit. Hy het vir Hadad-Eser, seun van Regob en koning van Soba, oorwin.
4 Dawid het 1 700 manne op perde en 20 000 voetsoldate gevat van Hadad-Eser. Dawid het al die perde se hakskene laat afsny, die perde wat die oorlogkarre getrek het. Hy het net genoeg perde laat oorbly om 100 oorlogkarre te trek.
5 Die Arameërs van Damaskus het gekom om vir koning Hadad-Eser van Soba te help, maar Dawid het hulle oorwin en hy het 20 000 van hulle manne doodgemaak.