6 Sy lyf was soos mooi klip, sy gesig was soos weerlig en sy oë was soos vlamme vuur. Sy arms en bene was soos brons wat blink gevryf is. Wanneer hy gepraat het, dan was sy stem soos die stemme van baie mense wat saam praat.
7 Net ek, Daniël, het die man gesien. Die manne wat by my was, het niks gesien nie, maar hulle het groot geskrik en hulle het weggekruip.
8 Ek was alleen en ek het die man gesien. Ek was baie bang, my gesig was baie bleek en ek het baie swak geword.
9 Ek het gehoor die man praat, en toe ek hom hoor, het ek met my gesig teen die grond gaan lê. Ek was bewusteloos.
10 Maar ’n hand het my gevat en die hand het my opgetel. Ek het op my knieë en my hande gestaan. Ek het gebewe.
11 Die man het vir my gesê: “Daniël, God hou van jou. Hy het my na jou toe gestuur, en jy moet luister na wat ek vir jou sê. Staan op.”
12 Toe die man dit vir my sê, het ek opgestaan, maar ek het nog gebewe. Hy het vir my gesê: “Daniël, jy moenie bang wees nie. Jy wou graag verstaan wat jy gesien het, en jy was soos iemand wat rou. Jou God het daardie eerste dag gehoor wat jy wil bid en Hy het my na jou toe gestuur.