5 Maar die koning het vir die slim mense gesê: “Nee, ek het besluit júlle moet vir my sê wat ek gedroom het en wat dit beteken. As julle dit nie doen nie, dan sal my manne julle doodmaak en in stukke kap en julle huise afbreek.
6 Maar as julle vir my sê wat ek gedroom het en wat dit beteken, dan sal ek vir julle baie presente gee, en julle sal baie belangrike mense word. Daarom, sê nou vir my wat ek gedroom het en wat dit beteken.”
7 Die slim mense het weer gesê: “Koning, jy moet eers vir ons sê wat jy gedroom het, dan sal ons sê wat dit beteken.”
8 Toe sê die koning vir hulle: “Ek weet julle wil eers dink wat julle moet doen. Julle weet ek het klaar besluit
9 wat ek met julle sal doen as julle nie vir my kan sê wat ek gedroom het nie. Julle wil eers saam besluit om vir my iets te vertel wat nie waar is nie. Julle hoop daar gebeur iets wat julle sal help. Daarom, sê nou vir my wat ek gedroom het, dan sal ek weet julle kan ook vir my sê wat dit beteken.”
10 Die slim mense het vir die koning gesê: “Niemand op die aarde kan doen wat die koning wil hê nie. Daar is nie een ander belangrike koning wat so iets vir ’n slim mens gevra het nie.
11 Die koning wil hê ons moet iets doen wat ons nie kan doen nie. Niemand anders kan dit doen nie. Net die gode kan dit doen, en hulle woon nie hier by die mense nie.”