10 Maar die koningin het gehoor wat die koning en sy amptenare praat. Sy het in die eetsaal gekom en gesê: “Ek hoop die koning sal lank lewe. Jy moenie bang wees en bleek word nie.
11 Daar is ’n man in jou land, die heilige gode help hom. Koning Nebukadnesar, wat koning was voor jou, het gesien die man is baie slim en sy wysheid is soos die wysheid van die gode. Toe het Nebukadnesar hom die hoof gemaak van al die slim mense.
12 Die man se naam is Daniël, en koning Nebukadnesar het hom Beltsassar genoem. Jy moet vir Daniël laat roep, hy sal vir jou sê wat die woorde op die muur beteken. Hy kan sê wat drome beteken, hy kan antwoord wat mense vir hom vra en hy kan probleme oplos.”
13 Hulle het vir Daniël na die koning toe gebring. Die koning het vir Daniël gesê: “Is jy Daniël, een van die mense wat koning Nebukadnesar weggevat het uit die land Juda en hiernatoe gebring het?
14 Ek het gehoor die gode help jou en jy is baie slim.
15 Ek het die wyse en slim mense laat kom om te lees wat daar op die muur geskryf is en om te sê wat dit beteken. Maar hulle kon dit nie doen nie.
16 Toe het ek gehoor jy kan sê wat dinge beteken en jy kan probleme oplos. As jy nou kan lees wat daar geskryf is en kan sê wat dit beteken, dan sal ek vir jou klere aantrek wat lyk soos ’n koning se klere: pers klere en ’n goue ketting om jou nek. Jy sal ook die derde belangrikste man in die land word.”