19 Daarom was die mense van al die volke bang vir Nebukadnesar, want hy kon almal doodmaak wat hy wou doodmaak. Hy kon ook almal laat lewe wat hy wou laat lewe. Hy kon mense belangrik maak of hy kon hulle verneder.
20 Maar Nebukadnesar het hoogmoedig geword, en God het besluit hy sal nie meer koning wees en op ’n koning se troon sit nie. Die mense het hom nie meer gerespekteer nie.
21 Hulle het vir Nebukadnesar weggejaag. Hy het soos ’n dier geword en hy het tussen die wildedonkies gaan woon. Hy moes gras eet soos ’n bees en die dou uit die lug het hom natgemaak. Nebukadnesar het daar gebly totdat hy geweet het dat dit God is wat besluit wie koning sal wees.
22 “Maar, Belsassar, jy het koning geword ná Nebukadnesar. Jy het dit alles geweet, maar jy was hoogmoedig.
23 Jy het gedink jy is belangriker as die Here van die hemel. Jy het saam met jou amptenare, jou vroue en jou byvroue wyn gedrink uit die bekers wat Nebukadnesar weggevat het uit die Here se tempel. En toe het julle die gode van silwer, goud, brons, hout en klip geprys. Dit is gode wat nie kan sien en hoor nie, hulle weet niks. Maar jy wou nie vir God eer nie, die God wat vir jou asem gee en wat besluit wat met jou moet gebeur.
24 Dit is hierdie God wat die hand gestuur het om te skryf.
25 “Dit is die woorde wat op die muur geskryf is: ‘Mene, mene, tekel ufarsin.’