5 Die ander twee hoof-amptenare en die goewerneurs wou by die koning gaan kla oor Daniël. Hulle wou vir die koning sê hy doen nie sy werk nie en hy werk nie reg nie. Maar hulle kon niks kry wat Daniël verkeerd gedoen het nie, want hy het alles goed en reg gedoen.
6 Die ander twee hoof-amptenare en die goewerneurs sê toe vir mekaar: “Ons sal net by die koning oor Daniël kan gaan kla wanneer Daniël iets doen wat sy God wil hê.”
7 Die twee hoof-amptenare en die goewerneurs het vinnig na die koning toe gegaan en gesê: “Koning, ons hoop jy sal lank lewe.
8 Al jou belangrike amptenare het saam besluit dat jy ’n wet moet maak: Al die mense moet 30 dae lank net tot jou bid, en jy sal almal wat dit nie doen nie en tot ’n ander mens of god bid, vir die leeus gooi.
9 Koning, jy moet nou hierdie wet maak, en dit moet ’n wet wees van Medië en Persië, ’n wet wat niemand kan verander nie.”
10 Koning Darius het toe die wet gemaak.
11 Daniël het gehoor van die nuwe wet, maar hy het in sy huis gegaan en hy het elke dag drie maal gekniel en gebid en sy God geprys soos hy altyd gedoen het. Hy het gebid voor die oop vensters van die kamer op die dak. Die vensters was oop na Jerusalem toe.