16 Ester het by koning Ahasveros in sy paleis gekom in die tiende maand, die maand Tebet, in die sewende jaar nadat hy koning geword het.
17 Die koning het baie lief geword vir Ester, meer lief as vir al die ander vroue. Hy het meer van haar gehou as van die ander meisies. Hy het ’n kroon op haar kop gesit en hy het haar die koningin gemaak. Voorheen was Vasti die koningin.
18 Die koning het ’n groot fees gehou vir al sy amptenare en ministers. Dit was ’n fees vir Ester. Die koning het gesê die mense van die provinsies moet ’n tyd lank nie belasting betaal nie en hy het vir baie mense presente gegee.
19 Toe die amptenare die meisies bymekaargebring het, was Mordegai ’n amptenaar by die paleis.
20 Ester het nie gesê wie haar familie is en van watter volk sy is nie. Mordegai het gesê sy moenie vir hulle sê nie, en Ester was nou ook so gehoorsaam soos toe sy grootgeword het by hom.
21 In die tyd toe Mordegai ’n amptenaar was by die paleis van die koning, het twee amptenare van die koning kwaad geword vir koning Ahasveros en hulle het besluit om die koning te vermoor. Hulle was wagte wat die koning moes oppas.
22 Mordegai het gehoor wat hulle wil doen, en hy het dit vir koningin Ester gesê. Sy het vir die koning gaan sê wat Mordegai gesê het.