1 Die koning en Haman het by koningin Ester kom eet.
2 Terwyl hulle op die tweede dag wyn gedrink het, het die koning weer vir Ester gevra: “Koningin Ester, ek sal vir jou enige iets gee wat jy vra, ek sal doen wat jy wil hê, ook as jy die helfte van die lande vra waaroor ek regeer.”
3 Koningin Ester het geantwoord: “Koning, dit is wat ek vra en wat ek wil hê: As jy van my hou en as jy dit wil doen, dan vra ek dat ek en my volk mag aanhou lewe.
4 Want iemand het ons verkoop, hy het my en my volk verkoop. Hy wil ons vermoor, hy wil hê dat niemand van ons moet oorbly nie. As hy ons verkoop het om slawe en slavinne te word, dan sou ek stilgebly het en dan sou ek nie die koning daaroor gepla het nie.”
5 Toe sê koning Ahasveros vir koningin Ester: “Wie is dit? Waar is die persoon wat hierdie planne gemaak het?”
6 En Ester sê: “Dit is hierdie slegte man Haman. Hy is ons vyand!”
7 Die koning was baie kwaad. Hy het opgestaan van die tafel en hy het na die tuin van die paleis gegaan. Haman het daar gebly staan en hy het gesoebat dat koningin Ester moet help om sy lewe te spaar, want hy het gesien dat die koning klaar besluit het dat daar niks goed met hom sal gebeur nie.
8 Toe die koning uit die tuin terugkom na die eetkamer, sien hy dat Haman teen die bank lê waarop Ester sit, en die koning sê: “Wil jy nou ook die koningin verkrag? Wil jy dit doen hier by my in my paleis?”Toe die koning dit gesê het, het hulle Haman se gesig toegemaak.
9 Garbona, een van die amptenare, sê toe: “Daar staan die paal by Haman se huis, hy het die paal vir Mordegai laat inplant. Die paal is 50 el hoog. Maar Mordegai is die man wat vir die koning gered het toe hy vertel het dat die amptenare die koning wil vermoor.”Die koning het gesê: “Julle moet vir Haman ophang aan die paal.”
10 Hulle het vir Haman opgehang aan die paal wat hy laat inplant het om vir Mordegai op te hang. Die koning was toe tevrede.