Ester 2:3-9 ABA

3 Hy moet in al die provinsies waaroor hy regeer, mense kies en aanstel om al die mooi jongmeisies te soek, en hulle moet die meisies na die stad Susan bring. Die meisies moet bymekaarkom in die kamers vir die vroue, en Hegai, die amptenaar van die koning, sal die vroue daar oppas. Dan moet hulle al die meisies mooi maak,

4 en die meisie van wie die koning die meeste hou, moet koningin word ná Vasti. Die koning het gedink dit is ’n goeie plan, en hy het dit gedoen.

5 In die stad Susan was daar ’n man wat uit die land Juda gekom het. Sy naam was Mordegai. Hy was van die Benjamin-stam en hy was die seun van Jaïr seun van Simi seun van Kis.

6 Toe koning Nebukadnesar van Babel vir koning Jojagin gevang en weggevat het na Babel, het hy vir Mordegai en sy familie ook saamgevat.

7 Mordegai het ’n niggie gehad, sy was ’n weeskind. Mordegai het vir haar gesorg en haar grootgemaak. Haar naam was Hadassa, en hulle het haar ook Ester genoem. Sy was baie mooi. Mordegai het haar aangeneem toe haar ouers dood is en sy het Mordegai se dogter geword.

8 Toe die amptenare hoor wat die koning besluit het, het hulle baie jongmeisies bymekaargemaak. Hulle het die meisies na die stad Susan geneem. Daar het Hegai vir die meisies gesorg. Ester was een van hierdie meisies. Hegai was die opsigter wat gekyk het dat alles reg is in die kamers waar die koning se vroue gewoon het.

9 Hegai het gesien dat Ester baie mooi is, en hy het gehou van haar. Hy het dadelik gesorg dat sy die regte kos kry en dat hulle vir haar baie mooi maak. Hy het sewe meisies uit die paleis gekies om haar te help, en hy het vir haar en die meisies die beste kamers gegee om in te woon.