Ester 4:7-13 ABA

7 en Mordegai het vir hom vertel wat alles met hom gebeur het. Hy het ook gesê presies hoeveel silwer Haman belowe het om vir die koning se amptenare te gee. Hulle moes dit vir die koning bêre as hy al die Judeërs sal laat doodmaak.

8 Mordegai het vir Hatak een van die briewe gegee wat die koning oral in die stad Susan vir die mense gestuur het. In die briewe het die koning geskryf wat hy besluit het. Mordegai het gesê Hatak moet die brief vir Ester wys en vir haar alles vertel. Hy moet ook vir haar sê sy moet na die koning toe gaan en sy moet vir hom vra dat hy jammer moet wees vir haar mense en dat hy hulle nie moet laat doodmaak nie.

9 Hatak het vir Ester gaan sê wat Mordegai gesê het,

10 en Ester het vir Hatak gesê hy moet vir Mordegai gaan sê:

11 “Al die koning se mense en almal in die provinsies van die koning weet dat enige iemand, ’n man of ’n vrou, net na die koning toe mag gaan op die oop stuk grond binne-in die paleis wanneer die koning hom laat roep. As iemand na die koning toe gaan maar die koning het hom nie geroep nie, dan is daar een wet vir almal: Daardie persoon moet sterf. Hy sal net aanhou lewe as die koning sy goue septer na hom toe uitsteek. Die koning het my nog nie laat roep nie, en vandag is 30 dae klaar verby.”

12 Hulle het vir Mordegai vertel wat Ester gesê het,

13 en toe het Mordegai gesê hulle moet vir Ester antwoord en sê: “Jy moenie dink dat jy vry sal wegkom omdat jy in die koning se huisgesin is nie, jy sal saam met die ander Judeërs sterf.