10 Die koning sê toe vir Haman: “Maak gou! Neem die klere en die perd en doen soos jy gesê het met die Judeër Mordegai wat voor die paleis sit. Jy moet alles doen wat jy gesê het.”
11 Haman het die klere en die perd geneem en hy het die klere vir Mordegai aangetrek. Hy het vir Mordegai oor die oop stuk grond in die stad laat ry en hy het geskree: “Dit is wat ons doen met iemand wanneer die koning wil wys dat hy belangrik is.”
12 Daarna het Mordegai teruggegaan na die paleis, en Haman het vinnig huis toe gegaan. Hy het gerou en hy het sy kop toegemaak met ’n doek.
13 Hy het vir sy vrou Seres en al sy vriende vertel wat met hom gebeur het. Sy slim manne en sy vrou Seres het toe vir hom gesê: “Die koning het jou verneder voor Mordegai. Mordegai is ’n Judeër, en daarom sal jy niks teen hom kan doen nie. Hulle sal jou nog meer verneder, dit is seker.”
14 Terwyl hulle besig was om te praat, het die amptenare van die koning daar gekom. Hulle het Haman vinnig geneem om die kos te gaan eet wat Ester gereedgemaak het.