3 Daarna het Ester weer met die koning gaan praat. Sy het voor hom gaan lê en sy het gehuil. Sy het vir hom gevra dat hy moet keer dat die planne van Haman, die man van die nageslag van Agag, nie slaag nie, want Haman het slegte planne teen die Judeërs gemaak.
4 Die koning het die goue septer na Ester toe uitgesteek, en Ester het opgestaan en voor die koning gaan staan.
5 Sy het gesê: “As die koning dink dit is goed, en as jy dink dit is reg, dan moet jy asseblief iets doen vir my. As jy lief is vir my, dan moet jy sê dat jy die briewe van Haman stop. Haman, die man van die nageslag van Agag, het die briewe geskryf, want hy wou die Judeërs in al die provinsies van die koning laat doodmaak.
6 Ek wil nie hê dat so ’n slegte ding met my volk gebeur nie. Ek wil nie hê dat hulle my familie doodmaak nie.”
7 Koning Ahasveros het vir koningin Ester en vir die Judeër Mordegai gesê: “Julle weet dat ek Haman se huis vir Ester gegee het en dat hulle vir Haman aan die paal opgehang het omdat hy gesê het dat hulle die Judeërs moet doodmaak.
8 Niemand kan ’n brief terugtrek as dit van die koning kom en as sy seël daarop is nie. Daarom moet julle nou self briewe skryf oor die Judeërs, julle moet skryf soos julle dink is goed. Julle mag sê die briewe kom van die koning en julle mag die seël van die koning op die briewe sit.”
9 In daardie tyd, in die derde maand, die maand Siwan, op die 23ste dag van die maand, het Mordegai die sekretarisse van die koning laat roep. Hulle moes skryf wat Mordegai sê, hulle moes skryf aan die Jode, aan die hoof-amptenare, die goewerneurs en die amptenare in die 127 provinsies van die land Indië, tot by die land Kus. Hulle moes skryf aan elke provinsie en aan elke volk. Hulle moes elke volk se eie skrif en sy eie taal gebruik. Hulle moes ook die Judeërs se eie skrif en taal gebruik.