11 Toe die koning daardie dag hoor hoeveel mense in Susan dood is,
12 het hy vir koningin Ester gesê: “Die Judeërs het hier in die stad Susan 500 persone doodgemaak, en ook die tien seuns van Haman. Ek wonder hoeveel mense hulle in die ander provinsies doodgemaak het. Wat wil jy nog vir my vra? Ek sal dit vir jou gee. Jy moet sê wat jy nog wil hê, en ek sal dit doen.”
13 Ester het geantwoord: “As die koning dink dit is reg, dan moet jy vir die Judeërs in Susan sê dat hulle môre dieselfde mag doen wat hulle vandag gedoen het. En jy moet die tien seuns van Haman laat ophang aan die paal.”
14 Die koning het gesê dit is goed, en die mense in Susan het gehoor wat hy besluit het. Hulle het die tien seuns van Haman opgehang.
15 Die Judeërs in Susan het ook op die 14de dag van die maand Adar bymekaargekom en hulle het nog 300 mense in Susan doodgemaak. Maar hulle het nie hulle vyande se goed vir hulleself gevat nie.
16 Die Judeërs in die ander provinsies van die koning het ook bymekaargekom om hulleself te verdedig. Hulle het gewen teen al hulle vyande en hulle het 75 000 mense doodgemaak wat vir hulle gehaat het. Maar hulle het nie hulle vyande se goed vir hulleself gevat nie.
17 Dit was op die 13de dag van die maand Adar. Op die 14de dag het hulle gerus, en hulle het besluit dat daardie dag ’n feesdag moet wees. Hulle was vrolik op daardie dag.